Lockheed P-3 Orion

Lockheed P-3 Orion
'n Japannese P-3C van die Japannense Kuswag
Tipe Mariene verkenning
Vervaardiger Lockheed
Nooiensvlug 25 November 1959
Status In diens
Hoofgebruiker Amerikaanse Vloot
Vervaardig 1961 - 1990
Aantal gebou Lockheed: 650
Kawasaki: 107
Programkoste -

Die Lockheed P-3 Orion is 'n viermotorige turboskroef vliegtuig wat ontwikkel is vir marienewerk; verkenning oor die see en opsporing van duikbote. In 1957 het die Amerikaanse Vloot 'n uitnodiging gering vir die ontwerp van 'n maritieme verkenningsvliegtuig met 'n lang togafstand wat ook gebruik kan word vir die jag van duikbote om die verouderde Lockheed P2V Neptune te vervang.

Lockheed het die ontwerp van hulle passasiersvliegtuig, die Lockheed L-188 Electra gebruik as basis. Die Orion was 2,4 m korter en kon in sy bomlaai seemyne, dieptebomme, torpedos of selfs kernbomme vervoer. Die prototipe het sy nooiensvlug op 25 November 1959 afgelê. Die produksiemodelle is in Julie 1962 in diens gestel en die laaste vliegtuig is in April 1990 afgelewer.

Die Orion het 'n gedugte reputasie opgebou as 'n duikbootjagter tydens die Koue Oorlog. Vanaf die Kubaanse missielkrisis totdat die Sowjetunie ontbind het was daar voortdurend 'n Orion in die lug op 'n verkenningstog.

Die P-3 kan toegerus word met gesofistikeerde apparaat. Dit sluit gesofistikeerde opsporingsapparaat, infrarooi elektro-optiese kameras en spesiale radartoerusting in. Die vliegtuig het geen wapens aan boord gehad vir selfverdediging nie. Dit word aangedryf deur vier Allison T56-A-14 turboskroefmotore en kon op bykans enige hoogte werk. Dit was ook internasionaal gebruik vir vredes- en hulpsendings. Gedurende die onrustyd in Liberië was die P-3 die oë en ore van die magte wat V.S.A. se ambassade beskerm het. In Somalië het dit die operasies in die strate van Mogadisjoe gemonitor. In Rwanda is die P-3 gebruik om die beweging van vlugtelinge te monitor om sodoende hulpverlening effektief te kon doen. Gedurende Operasie Desert Storm, tydens die Golfoorlog, het die P-3 meer as 12 000 ure gevlieg in 1 200 verkenningstogte.

Tans beskik die Amerikaanse Vloot oor twaalf aktiewe en sewe eskaders in reserwe wat beteken dat daar te eniger tyd veertig P-3 ontplooi kan word wêreldwyd. Ook was die P-3 verkoop aan Australië, Chile, Griekeland, Iran, Nederland, Nieu-Seeland, Noorweë, Portugal, Suid-Korea, Spanje en Thailand. Sommige van die vliegtuie is in Japan deur Kawasaki gebou. Kanada beskik oor 'n spesiale model wat bekend staan as die CP-140 Aurora.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search